Wednesday, August 12, 2009

Taaldag - 14 Augustus 2009

Liewe Kultuurvriend,

AUGUSTUS IS TAALMAAND – WAT ‘n VOORREG!

Taaldag vra voorraadopname van elke Afrikaner

Met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875, kies agt jong Afrikaners vir Afrikaans teen Hollands en Engels. Hulle sê onder andere: “Die doel van ons Genootskap is: om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land.” Ook sê hulle: “……want die Afrikaners moet nog taalbewus en nasiebewus gemaak word: hulle moes nog bearbei word om hulle eie taal te lees en te skryf en saam te staan.” Hierdie klompie begeesterde jongmanne se sterk standpunt was die stimulus vir die Eerste Afrikaanse Taalbeweging.

Daar hang in 2009 donker wolke oor ons volk se voortbestaan en ook is die toekoms van Afrikaans ernstig in die gedrang. Van owerheidsweë is die aanslag fel om Afrikaans nek om te draai en voel jy dikwels soos ‘n taalbanneling in ‘n volksvreemde land. Die owerheid se visier is tans veral sterk gemik teen Afrikaans as onderrigtaal.

Tog dink ek vanuit eie geledere is ons ook sterk besig om self vinnig ‘n graf vir Afrikaans te help grawe. Moedertaalonderrig is vir baie volksgenote nie meer ‘n ononderhandelbare keuse nie; al hoe meer volksgenote bedryf hulle sake-ondernemings net in Engels (kyk gerus na die pamflette en advertensies daagliks in jou posbus!); die brabbeltaal wat baie jongmense en volwassenes informeel én formeel gebruik, strek ons taal nie tot eer nie en sal op die langeduur negatief op Afrikaans as “algemeen-beskaafde” taal inwerk, ensovoorts, ensovoorts - wat ‘n tragiese toestand!

In die tyd waarin ons nou leef, kan ons net sowel saam met die Genootskappers sê Afrikaners moet ook weer “taalbewus en nasiebewus” (volksbewus) gemaak word en moet ook óns opnuut opgeroep word “om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land.”

Hier is nou jou vriendelike uitnodiging om by ons volgende kultuuraand saam te kom praat oor die mooiste, mooiste taal – AFRIKAANS!

Datum en tyd: Vrydagaand, 14 Augustus 2009 (Taaldag) om 19:00
Plek: ouditorium, Bybelhuis
Gespreksonderwerp: Bly of gly? Afrikaners se ervaring van ontheemdheid, soos dit tot uitdrukking kom in enkele onlangse gedigte en liedjies. (Ontheemde: vlugteling sonder woonplek – WAT).
Gespreksleier: professor Bernard Odendaal, UV.


Prof. Bernard is lief vir ons taal en ons volk en kan onderhoudend en uit die hart en met gesag oor Afrikaans praat. Kom luister en kom neem deel aan die gesprek.

Aanvullende program: opening, ds. Johann Jacobs; verwelkoming namens Bybelgenoodskap, ds. Gerrie van Dyk; vioolspel (2x), Wilmarie Danzfuss; voorlees van ‘n humoristiese skets van PH Nortje.

Ná die geleentheid bedien ons sop en broodjies gratis, maar vra ‘n donasie vir die werk van die Bybelgenootskap en ook om dankie te sê dat ons hulle puik geriewe gratis mag gebruik. Ons neem vrymoedigheid om elke kultuurganger vriendelik te vra vir ‘n ruim bydrae vir die goeie werk wat die Bybelgenootskap doen.

Vriendelike kultuurgroete in ons MOEDERTAAL.
Sam de Klerk
SJ de Klerk (Voorsitter) 29 Julie 2009. Tel.:051-446 1899