Wednesday, May 20, 2009

Stigtingsdag/Van Riebeeckdag

BLOEMFONTEINSE KULTUURVERENIGING

BLOEMFONTEINSE KULTUURVERENIGING


(‘n Gesinskultuurvereniging vir Afrikaners)


Ons leuse: ‘n VOLK RED HOMSELF


Liewe Kultuurvriend,


n VRIENDELIKE UITNODIGING NA ONS VOLGENDE KULTUURAAND


Dit wil voorkom asof STIGTINGSDAG/VAN RIEBEECKDAG deesdae nie meer vir die Afrikaner baie belangrik is nie. Baie jongmense weet dalk nie eers meer dat Jan van Riebeeck op 6 April 1652 voet aan wal in Suid-Afrika gesit het nie.


Ons bestuur het besluit om by ons volgende kultuuraand gedagtes te wissel oor die betekenis van Stigtingsdag vir ons volk in 2009.


Hier is jou uitnodiging met die besonderhede:


Datum en tyd: Vrydagaand, 22 Mei 2009 om 19:00.

Plek: Ouditorium, Bybelhuis.

Geleentheid: Stigtingsdag/Van Riebeeckdag.


Gespreksonderwerp: Het Van Riebeeck se koms na Suid-Afrika vir ons volk hoegenaamd nog enige betekenis?

Gespreksleier: Dr. Chris Verwoerd


Aanvullende program:


* Voordrag: Uittreksels uit Die Dieper Reg van NP van Wyk Louw

(Jeanette de Winnaar, student, UV.)

* Instrumentale nommers (Elsabé Raath, student, UV)

* Sangsolo’s (Christine Hugo, leerling, President Steyn)

* Samesang


By ons kultuuraand van 27 Februarie 2009 was die bywoning goed en het die bespreking goeie reaksie uitgelok. Kom ons gebruik hierdie geleentheid weer om saam met volksgenote kultuur te beoefen en kultuur te geniet.


Welkom by voorbaat by hierdie kultuurgeleentheid!


Vriendelike groete.

Sam de Klerk

(Voorsitter - 14 Mei 2009 / Tel.: 051-4461899)

Wednesday, May 13, 2009

Volksaksie 30 Mei - Winburg

'n Beroep word gedoen op alle behoudende Vrystaters om hierdie aksie te ondersteun en die dag by te woon.

Tuesday, May 5, 2009

Bloemfonteinse Kultuurvereniging (BKV)

(‘n Gesinskultuurvereniging vir Afrikaners)

Ons leuse: 'n VOLK RED HOMSELF

Liewe Kultuurvriend/vriendin,

JAARPROGRAM VIR 2009

Ons kultuurvereniging bely steeds positief ………. ons volk het ‘n toekoms, ‘n toekoms wat deur die Almagtige bepaal word en wat niemand van ons kan wegneem nie. Die lotgevalle van ons volk is onteenseglik in Sy hand!

En tog moet ons vra: bou ons nie maar dikwels met hooi en stoppels; op voortdurende negatiewe denke; op liefdeloosheid teenoor mekaar; op broedertwis en skinderpraatjies nie?

Of: soek ons eerder mekaar se belang; versterk ons eerder ons kultuureie en bou daarop; haal ons die mooie uit ons verlede en versterk dit; is ons lief vir ons Moedertaal en gebruik ons hom tydig en ontydig; glo ons in ons bewese geskiedenis wat nie ten doel gehad het om ander doelbewus te benadeel nie? Kortom: kan ons help bou aan die voortbestaan van ons volk met sy eie lewens- en wêreldbeskouing?

Ons het met die Bybelgenootskap gereël om vanaf 2009 hulle ouditorium by die Bybelhuis vir ons byeenkomste te gebruik. Hiervoor sê ons graag aan ds. Gerrie van Dyk baie dankie en wil in dieselfde asem aan Dankbaar CVO Skool baie dankie sê dat ons sedert 2004 hulle geriewe kon gebruik. Ons behou kontak met Dankbaar en sal van tyd tot tyd hulle saal gebruik.

Só lyk ons jaarprogram vir 2009 (Kan verander – hou Ons Stad dop)

  • Vrydagaand, 27/02 om 19:00: kultuuraand in ouditorium, Bybelhuis (Majubadag/Stigtingsdag)

  • Vrydagaand, 22/05 om 19:00: kultuuraand in ouditorium, Bybelhuis (Bittereinderdag)

  • Vrydagaand, 3/07 om 19:00: kultuuraand by in ouditorium, Bybelhuis (ope-aand)

  • Vrydagaand, 14/08 om 19:00: kultuuraand in ouditorium, Bybelhuis (Taaldag/GRA-dag)

  • Vrydagaand, 9/10 om 19:00: kultuuraand in ouditorium, Bybelhuis

(Krugerdag)

  • Woensdag, 16/12: betrokke by Geloftefees

n Positiewe oproep: staan jou man op die kultuurakker in 2009 en help om ons volkseie verder uit te bou.

Soos verlede jaar, wil ek graag herhaal wat die Afrikaanse digter, ID du Plessis, gesê het:

. . . soet is die stryd vir die stryer,

Al moet hy uiteindelik verloor;

Maar die man wat sy deelname weier,

is die man wat sy nasie vermoor.”

Dis die Bloemfonteinse Kultuurvereniging se wens dat jy en jou geliefdes ‘n mooi jaar sal beleef en dat ons almal die ware betekenis van Kersfees sal gaan lééf.

Kultuurgroete van huis tot huis.

SAM DE KLERK

……………………………

SJ DE KLERK

(VOORSITTER)

25 November 2008

Telefoonnr.: 051-4461899

Dankbaar CVO-skool, Bloemfontein


Christelike Volkseie Onderwysskool
DANKBAAR

Die jaar 2008 was ‘n opwindende jaar vir Dankbaar CVO Skool. Vir ons skool en ons ouers bly die voortgesette nakoming van die doopbelofte en ons werk op die kultuurakker van die Afrikaner Boerevolk, vir ons prioriteit.

As hoogtepunte wil ons graag die CVO winterspele uitsonder, waar ‘n hele aantal van ons rugby- en netbal-uitblinkers die Vrystaat verteenwoordig het en vir die nasionale span gekies is. Ons was vanjaar die gashere van die kultuufees vir Vrystaat en Noord-Kaap en ons is trots op ons kinders wat ook op nasionale vlak presteer het. Ons opedag was ‘n verdere mylpaal wat die groeiende belangstelling in ons skool toon.

Die feit dat ons hele benadering tot onderrig vanuit ‘n Gereformeerde grondslag plaasvind maak ons uniek. Ons naam sê immers Chistelike Volkseie onderwys is ons uitgangspunt.

Ons wil in 2009 fokus op gehalte onderwys en daarmee saam gelukkige ouers, leerlinge en personeellede huisves.

Die groot projekte wat in 2009 aandag sal geniet is die inrig van ‘n nuwe biblioteek. Ons wil graag ons tuin opknap en die speelterrein vir ons laerskoolkinders ‘n lushof maak.

My wens aan u vir 2009: Wees die beste wat jy kan wees!


Mnr P M Oosthuizen
Skoolhoof
Tel: 051 451 1334
Adres: Posbus 17662
Bainsvlei, 9338
Ou Kimberley Pad, Bainsvlei, Bloemfontein