Tuesday, May 5, 2009

Bloemfonteinse Kultuurvereniging (BKV)

(‘n Gesinskultuurvereniging vir Afrikaners)

Ons leuse: 'n VOLK RED HOMSELF

Liewe Kultuurvriend/vriendin,

JAARPROGRAM VIR 2009

Ons kultuurvereniging bely steeds positief ………. ons volk het ‘n toekoms, ‘n toekoms wat deur die Almagtige bepaal word en wat niemand van ons kan wegneem nie. Die lotgevalle van ons volk is onteenseglik in Sy hand!

En tog moet ons vra: bou ons nie maar dikwels met hooi en stoppels; op voortdurende negatiewe denke; op liefdeloosheid teenoor mekaar; op broedertwis en skinderpraatjies nie?

Of: soek ons eerder mekaar se belang; versterk ons eerder ons kultuureie en bou daarop; haal ons die mooie uit ons verlede en versterk dit; is ons lief vir ons Moedertaal en gebruik ons hom tydig en ontydig; glo ons in ons bewese geskiedenis wat nie ten doel gehad het om ander doelbewus te benadeel nie? Kortom: kan ons help bou aan die voortbestaan van ons volk met sy eie lewens- en wêreldbeskouing?

Ons het met die Bybelgenootskap gereël om vanaf 2009 hulle ouditorium by die Bybelhuis vir ons byeenkomste te gebruik. Hiervoor sê ons graag aan ds. Gerrie van Dyk baie dankie en wil in dieselfde asem aan Dankbaar CVO Skool baie dankie sê dat ons sedert 2004 hulle geriewe kon gebruik. Ons behou kontak met Dankbaar en sal van tyd tot tyd hulle saal gebruik.

Só lyk ons jaarprogram vir 2009 (Kan verander – hou Ons Stad dop)

  • Vrydagaand, 27/02 om 19:00: kultuuraand in ouditorium, Bybelhuis (Majubadag/Stigtingsdag)

  • Vrydagaand, 22/05 om 19:00: kultuuraand in ouditorium, Bybelhuis (Bittereinderdag)

  • Vrydagaand, 3/07 om 19:00: kultuuraand by in ouditorium, Bybelhuis (ope-aand)

  • Vrydagaand, 14/08 om 19:00: kultuuraand in ouditorium, Bybelhuis (Taaldag/GRA-dag)

  • Vrydagaand, 9/10 om 19:00: kultuuraand in ouditorium, Bybelhuis

(Krugerdag)

  • Woensdag, 16/12: betrokke by Geloftefees

n Positiewe oproep: staan jou man op die kultuurakker in 2009 en help om ons volkseie verder uit te bou.

Soos verlede jaar, wil ek graag herhaal wat die Afrikaanse digter, ID du Plessis, gesê het:

. . . soet is die stryd vir die stryer,

Al moet hy uiteindelik verloor;

Maar die man wat sy deelname weier,

is die man wat sy nasie vermoor.”

Dis die Bloemfonteinse Kultuurvereniging se wens dat jy en jou geliefdes ‘n mooi jaar sal beleef en dat ons almal die ware betekenis van Kersfees sal gaan lééf.

Kultuurgroete van huis tot huis.

SAM DE KLERK

……………………………

SJ DE KLERK

(VOORSITTER)

25 November 2008

Telefoonnr.: 051-4461899

No comments:

Post a Comment