Tuesday, November 24, 2009

Agri Turf - Besproeiing

Agri Turf spesialiseer in alle pompe, pype, landbou- en tuinbesproeiing. Ons doen ook installasies en herstelwerk in en rondom Bloemfontein, asook oor die hele Vrystaat en Noord-Kaap.

Kontak ons gerus in verband met spilpunte, kruipspuite, "floppy"-stelsels, tuinbesproeiing, boorgatpompe en al u waterbehoeftes.


Skakel Nelius by 082 559 2244 vir enige navrae.

Tuesday, September 29, 2009

Kultuuraand 9 Oktober 2009: Bloemfontein

BLOEMFONTEINSE KULTUURVERENIGING

(‘n Gesinskultuurvereniging vir Afrikaners)

Ons leuse: ‘n VOLK RED HOMSELF

Liewe Kultuurvriend,

2009 GAAN SNEL VERBY

Die uurglas vir 2009 is vinnig besig om leeg te loop en wie sou dit nou aan die begin van die jaar kon dink! Hier is ons nou al by ons laaste kultuurgeleentheid vir hierdie jaar, behalwe vir ons betrokkenheid by Geloftedag op 16 Desember.

Jou vriendelike uitnodiging lyk só:

Na aanleiding van ‘n versoek by verlede jaar se dinkskrum, kyk ons hierdie keer na die betekenis van ons Gereformeerde Belydenisskrifte in die huidige tydsgewrig en die jare wat voorlê. Gelowige Afrikaners wonder soms of ons Belydenisskrifte tans nog relevant kan wees. Kom luister gerus en kom praat saam.

Datum en tyd: Vrydagaand, 9 Oktober 2009 om 19:00
Plek: Ouditorium, Bybelhuis
Gespreksonderwerp: Die Belhar Belydenis - wat is die bohaai?
Gespreksleier: Professor Johan Janse van Rensburg
Prof. Johan is geen onbekende by ons nie en kan onderhoudend en met gesag oor geloof- en kerksake gesels.

Verder sluit ons program in:
• Opening – ds Gert Terblanche.

• Paul Kruger - vas soos ‘n berg! (ds Bertie de Lange).
• Koorsang.
• Voorlees van ‘n humoristiese skets.
• Lekker saamsing.
• Breek ‘n lans vir Afrikaans - het jy dit gedoen? Kom deel met ons.


Ons volk is met die rug teen die muur - in baie gevalle ‘n banneling in ons eie land. Daarom is dit nodig dat volksgenote rondom ons geloofsbegronding, ons taal en ons kultuureie mekaar moet versterk om die aanslae te kan afweer. Kom ons doen dit ook hierdie keer.

Vriendelike kultuurgroete van huis tot huis.
Sam de Klerk, 24 September 2009. Tel. (051) 446-1899

Wednesday, September 23, 2009

Erfenisdag of braaidag?

Vandag, 24 September, is deur die nuwe regering geproklameer tot nasionale braaidag. Is dit nie maar nog 'n aanslag op die Afrikaner se ryk erfenis nie?

Die volksvreemdes het nie so 'n ryk erfenis soos die blanke in Suid-Afrika nie, want niks wat hulle vir hulself opgeëis het, is deur hulle gebou nie.

Dus het hulle Erfenisdag afgewater tot braaidag, wat hulle goed weet die Afrikaner eerder sal doen as om sy erfenis te besoek. Want die meeste liberale Afrikaners dink mos rugby, brandewyn en braaivleis is kultuur.

Kom burgers, laai jou kinders en jou vriende in 'n kar en besoek die naaste monument, slagveld of aandenking van wat ons voorvaders vir ons agtergelaat het voordat jy daardie vleisie op die kole gooi.

Is dit werklik te veel gevra?

Friday, September 4, 2009

Cantus!!

Bloemfonteiners, kry julle das, baadjie, hoed en bekers gereed, dis weer tyd vir Cantus!!

Wanneer: 11 September 2009
Hoe laat: 19:30
Waar: Stads- en Streeksbeplanningsgebou op die Kovsiekampus

Hoop om julle almal daar te sien!

Wednesday, August 12, 2009

Taaldag - 14 Augustus 2009

Liewe Kultuurvriend,

AUGUSTUS IS TAALMAAND – WAT ‘n VOORREG!

Taaldag vra voorraadopname van elke Afrikaner

Met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875, kies agt jong Afrikaners vir Afrikaans teen Hollands en Engels. Hulle sê onder andere: “Die doel van ons Genootskap is: om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land.” Ook sê hulle: “……want die Afrikaners moet nog taalbewus en nasiebewus gemaak word: hulle moes nog bearbei word om hulle eie taal te lees en te skryf en saam te staan.” Hierdie klompie begeesterde jongmanne se sterk standpunt was die stimulus vir die Eerste Afrikaanse Taalbeweging.

Daar hang in 2009 donker wolke oor ons volk se voortbestaan en ook is die toekoms van Afrikaans ernstig in die gedrang. Van owerheidsweë is die aanslag fel om Afrikaans nek om te draai en voel jy dikwels soos ‘n taalbanneling in ‘n volksvreemde land. Die owerheid se visier is tans veral sterk gemik teen Afrikaans as onderrigtaal.

Tog dink ek vanuit eie geledere is ons ook sterk besig om self vinnig ‘n graf vir Afrikaans te help grawe. Moedertaalonderrig is vir baie volksgenote nie meer ‘n ononderhandelbare keuse nie; al hoe meer volksgenote bedryf hulle sake-ondernemings net in Engels (kyk gerus na die pamflette en advertensies daagliks in jou posbus!); die brabbeltaal wat baie jongmense en volwassenes informeel én formeel gebruik, strek ons taal nie tot eer nie en sal op die langeduur negatief op Afrikaans as “algemeen-beskaafde” taal inwerk, ensovoorts, ensovoorts - wat ‘n tragiese toestand!

In die tyd waarin ons nou leef, kan ons net sowel saam met die Genootskappers sê Afrikaners moet ook weer “taalbewus en nasiebewus” (volksbewus) gemaak word en moet ook óns opnuut opgeroep word “om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land.”

Hier is nou jou vriendelike uitnodiging om by ons volgende kultuuraand saam te kom praat oor die mooiste, mooiste taal – AFRIKAANS!

Datum en tyd: Vrydagaand, 14 Augustus 2009 (Taaldag) om 19:00
Plek: ouditorium, Bybelhuis
Gespreksonderwerp: Bly of gly? Afrikaners se ervaring van ontheemdheid, soos dit tot uitdrukking kom in enkele onlangse gedigte en liedjies. (Ontheemde: vlugteling sonder woonplek – WAT).
Gespreksleier: professor Bernard Odendaal, UV.


Prof. Bernard is lief vir ons taal en ons volk en kan onderhoudend en uit die hart en met gesag oor Afrikaans praat. Kom luister en kom neem deel aan die gesprek.

Aanvullende program: opening, ds. Johann Jacobs; verwelkoming namens Bybelgenoodskap, ds. Gerrie van Dyk; vioolspel (2x), Wilmarie Danzfuss; voorlees van ‘n humoristiese skets van PH Nortje.

Ná die geleentheid bedien ons sop en broodjies gratis, maar vra ‘n donasie vir die werk van die Bybelgenootskap en ook om dankie te sê dat ons hulle puik geriewe gratis mag gebruik. Ons neem vrymoedigheid om elke kultuurganger vriendelik te vra vir ‘n ruim bydrae vir die goeie werk wat die Bybelgenootskap doen.

Vriendelike kultuurgroete in ons MOEDERTAAL.
Sam de Klerk
SJ de Klerk (Voorsitter) 29 Julie 2009. Tel.:051-446 1899

Wednesday, May 20, 2009

Stigtingsdag/Van Riebeeckdag

BLOEMFONTEINSE KULTUURVERENIGING

BLOEMFONTEINSE KULTUURVERENIGING


(‘n Gesinskultuurvereniging vir Afrikaners)


Ons leuse: ‘n VOLK RED HOMSELF


Liewe Kultuurvriend,


n VRIENDELIKE UITNODIGING NA ONS VOLGENDE KULTUURAAND


Dit wil voorkom asof STIGTINGSDAG/VAN RIEBEECKDAG deesdae nie meer vir die Afrikaner baie belangrik is nie. Baie jongmense weet dalk nie eers meer dat Jan van Riebeeck op 6 April 1652 voet aan wal in Suid-Afrika gesit het nie.


Ons bestuur het besluit om by ons volgende kultuuraand gedagtes te wissel oor die betekenis van Stigtingsdag vir ons volk in 2009.


Hier is jou uitnodiging met die besonderhede:


Datum en tyd: Vrydagaand, 22 Mei 2009 om 19:00.

Plek: Ouditorium, Bybelhuis.

Geleentheid: Stigtingsdag/Van Riebeeckdag.


Gespreksonderwerp: Het Van Riebeeck se koms na Suid-Afrika vir ons volk hoegenaamd nog enige betekenis?

Gespreksleier: Dr. Chris Verwoerd


Aanvullende program:


* Voordrag: Uittreksels uit Die Dieper Reg van NP van Wyk Louw

(Jeanette de Winnaar, student, UV.)

* Instrumentale nommers (Elsabé Raath, student, UV)

* Sangsolo’s (Christine Hugo, leerling, President Steyn)

* Samesang


By ons kultuuraand van 27 Februarie 2009 was die bywoning goed en het die bespreking goeie reaksie uitgelok. Kom ons gebruik hierdie geleentheid weer om saam met volksgenote kultuur te beoefen en kultuur te geniet.


Welkom by voorbaat by hierdie kultuurgeleentheid!


Vriendelike groete.

Sam de Klerk

(Voorsitter - 14 Mei 2009 / Tel.: 051-4461899)

Wednesday, May 13, 2009

Volksaksie 30 Mei - Winburg

'n Beroep word gedoen op alle behoudende Vrystaters om hierdie aksie te ondersteun en die dag by te woon.

Tuesday, May 5, 2009

Bloemfonteinse Kultuurvereniging (BKV)

(‘n Gesinskultuurvereniging vir Afrikaners)

Ons leuse: 'n VOLK RED HOMSELF

Liewe Kultuurvriend/vriendin,

JAARPROGRAM VIR 2009

Ons kultuurvereniging bely steeds positief ………. ons volk het ‘n toekoms, ‘n toekoms wat deur die Almagtige bepaal word en wat niemand van ons kan wegneem nie. Die lotgevalle van ons volk is onteenseglik in Sy hand!

En tog moet ons vra: bou ons nie maar dikwels met hooi en stoppels; op voortdurende negatiewe denke; op liefdeloosheid teenoor mekaar; op broedertwis en skinderpraatjies nie?

Of: soek ons eerder mekaar se belang; versterk ons eerder ons kultuureie en bou daarop; haal ons die mooie uit ons verlede en versterk dit; is ons lief vir ons Moedertaal en gebruik ons hom tydig en ontydig; glo ons in ons bewese geskiedenis wat nie ten doel gehad het om ander doelbewus te benadeel nie? Kortom: kan ons help bou aan die voortbestaan van ons volk met sy eie lewens- en wêreldbeskouing?

Ons het met die Bybelgenootskap gereël om vanaf 2009 hulle ouditorium by die Bybelhuis vir ons byeenkomste te gebruik. Hiervoor sê ons graag aan ds. Gerrie van Dyk baie dankie en wil in dieselfde asem aan Dankbaar CVO Skool baie dankie sê dat ons sedert 2004 hulle geriewe kon gebruik. Ons behou kontak met Dankbaar en sal van tyd tot tyd hulle saal gebruik.

Só lyk ons jaarprogram vir 2009 (Kan verander – hou Ons Stad dop)

  • Vrydagaand, 27/02 om 19:00: kultuuraand in ouditorium, Bybelhuis (Majubadag/Stigtingsdag)

  • Vrydagaand, 22/05 om 19:00: kultuuraand in ouditorium, Bybelhuis (Bittereinderdag)

  • Vrydagaand, 3/07 om 19:00: kultuuraand by in ouditorium, Bybelhuis (ope-aand)

  • Vrydagaand, 14/08 om 19:00: kultuuraand in ouditorium, Bybelhuis (Taaldag/GRA-dag)

  • Vrydagaand, 9/10 om 19:00: kultuuraand in ouditorium, Bybelhuis

(Krugerdag)

  • Woensdag, 16/12: betrokke by Geloftefees

n Positiewe oproep: staan jou man op die kultuurakker in 2009 en help om ons volkseie verder uit te bou.

Soos verlede jaar, wil ek graag herhaal wat die Afrikaanse digter, ID du Plessis, gesê het:

. . . soet is die stryd vir die stryer,

Al moet hy uiteindelik verloor;

Maar die man wat sy deelname weier,

is die man wat sy nasie vermoor.”

Dis die Bloemfonteinse Kultuurvereniging se wens dat jy en jou geliefdes ‘n mooi jaar sal beleef en dat ons almal die ware betekenis van Kersfees sal gaan lééf.

Kultuurgroete van huis tot huis.

SAM DE KLERK

……………………………

SJ DE KLERK

(VOORSITTER)

25 November 2008

Telefoonnr.: 051-4461899

Dankbaar CVO-skool, Bloemfontein


Christelike Volkseie Onderwysskool
DANKBAAR

Die jaar 2008 was ‘n opwindende jaar vir Dankbaar CVO Skool. Vir ons skool en ons ouers bly die voortgesette nakoming van die doopbelofte en ons werk op die kultuurakker van die Afrikaner Boerevolk, vir ons prioriteit.

As hoogtepunte wil ons graag die CVO winterspele uitsonder, waar ‘n hele aantal van ons rugby- en netbal-uitblinkers die Vrystaat verteenwoordig het en vir die nasionale span gekies is. Ons was vanjaar die gashere van die kultuufees vir Vrystaat en Noord-Kaap en ons is trots op ons kinders wat ook op nasionale vlak presteer het. Ons opedag was ‘n verdere mylpaal wat die groeiende belangstelling in ons skool toon.

Die feit dat ons hele benadering tot onderrig vanuit ‘n Gereformeerde grondslag plaasvind maak ons uniek. Ons naam sê immers Chistelike Volkseie onderwys is ons uitgangspunt.

Ons wil in 2009 fokus op gehalte onderwys en daarmee saam gelukkige ouers, leerlinge en personeellede huisves.

Die groot projekte wat in 2009 aandag sal geniet is die inrig van ‘n nuwe biblioteek. Ons wil graag ons tuin opknap en die speelterrein vir ons laerskoolkinders ‘n lushof maak.

My wens aan u vir 2009: Wees die beste wat jy kan wees!


Mnr P M Oosthuizen
Skoolhoof
Tel: 051 451 1334
Adres: Posbus 17662
Bainsvlei, 9338
Ou Kimberley Pad, Bainsvlei, Bloemfontein

Monday, March 30, 2009

Nege vermeende kapers vas - Bloemfontein

Mar 30 2009 01:38:46:567AM - (SA)
Johan Brits







Nege mans wat met vyf motorkapings in Bloemfontein verbind kan word, is in hegtenis geneem.

Die eenheid teen georganiseerde misdaad het dié mans, vermoedelik almal van Mosambiek, die naweek in die woonbuurt Phameng aangekeer.

Bloemfontein is die laaste tyd erg deur kapings geteister.

Meer as 20 kapings het van einde November 2008 tot einde verlede maand net in die Parkweg-polisiekantoor se gebied voorgekom.

Volgens ’n ingeligte in dié eenheid het die ondersoek wat tot die negetal se inhegtenisneming gelei het, drie weke geduur.

“Hulle kan met vyf kapings verbind word.”

Die eenheid verwag om binnekort nog mense aan te keer.

“Die mans is nie deur die sogenaamde taakspan wat die polisie aangewys het om die kapingsvoorvalle te ondersoek, aangekeer nie. Ek weet nie waar dié taakspan is nie.”

Volgens die polisie is die taakspan meer as twee weke gelede aangewys om die reeks kapings en wrede aanvalle op motoriste te ondersoek.

Sr.supt. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het gesê die taakspan bestaan in dié geval uit kenners van kapings en geweldsmisdade.

Meer inligting oor die ondersoek kan nog nie bekend gemaak word nie.

Die nege mans verskyn vandag in die Bloemfonteinse landdroshof.

Kapt. Harry Nagel, polisiewoordvoerder, het gister gesê geen kapings of pogings tot kapings is oor die naweek nog aangemeld nie.

Die jongste geval was einde verlede week toe ’n bekende Suid-Afrikaanse swemmer byna ’n kapingslagoffer geword het. Sy kon daarin slaag om betyds weg te kom.

Die groep Stop kapings in Bloem, wat Volksblad op die sosiale netwerk Facebook begin het om mense bewus te maak van die kapings in die stad, se ledetal groei steeds sterk.

’n Week gelede het die groep amper 300 lede gehad. Gister het die ledetal op 487 gestaan.

Bron: Volksblad

Tuesday, March 10, 2009

Vlaag kapings in Bloemfontein

IN die jongste van ’n vlaag voertuigkapings in Bloemfontein het ’n man verwoed om sy lewe geveg.

Hy is meer as sewe keer met ’n mes in die nek, arms en hande gesteek.

Mnr. Kobus de Wet (37), ’n dieselwerktuigkundige van die Phello-konstruksiemaatskappy, waarsku Bloemfonteiners nou om oral in die stad op hul hoede te wees.

Hy en sy gesin het onlangs van Pretoria na Bloemfontein verhuis. In Pretoria het hy ook ’n motorkaping oorleef waarin hy geskiet is.

“?’n Mens is nêrens veilig nie. Dit kan met enigiemand op enige plek gebeur,” sê De Wet.

Hy het Saterdag van die distrik Hobhouse gekom waar hy ’n voertuig herstel het.
Op pad terug het hy op die pad van Thaba Nchu af by ’n rooi verkeerslig by die afdraai na Oos-Einde gestop.

Toe hy wegtrek, het viermans agterop die bakkie gespring.

“Hulle het vir my gesê ek moet ry soos hulle sê, anders gaan hulle my doodskiet.”

Hulle het hom na ’n grondpad buite die stad laat ry.

Daar het die aanvallers sy ruit met ’n baksteen stukkend geslaan en hom met messe toegetakel. Hy is uit die bakkie gesleep en hy moes verwoed om sy lewe veg.

Hy het die baksteen in die hande gekry en die aanvallers daarmee geslaan.

Dit is toe dat hy in die bakkie kon kruip en wegjaag.

Hy het sy vrou, Melanie, en sy werkgewer, mnr. Harry Sutherland, met sy selfoon gebel.

Hy het by die Navalsig-polisiekantoor gestop en ten aanskoue van mense in die polisiekantoor op die stoep ineengestort.

Mev. De Wet sê haar man het haar gebel en net gesê sy moet kom, want hy bloei baie.

Sy en haar twee dogters, Michelle (5) en Elize (12), het saam met haar ouers na die polisiekantoor gejaag.

Noodpersoneel het hom na die Bloemfontein-Medi-Clinic gebring.

Mnr. Carl Bührmann, hospitaalbestuurder, sê De Wet is stabiel. Hy is gister van die hoësorg-eenheid na ’n algemene saal oorgeplaas.

Photobucket

Mnr. De Wet se bakkie soos hoe dit gelyk het toe hy voor die polisiekantoor stop.

Photobucket

Bakkie binnekant.

Photobucket

Waar hy voor die polisiekantoor ineengestort het.

Photobucket

In die hospitaal.

Photobucket

Snye aan sy gesig en nek.

Tuesday, February 3, 2009

UOVS omskep in rassegevegsterrein

Met die jongste gebeure rondom die aanwysing van 'n kortlys van vyf kandidate vir die vakante rektorspos by die Universiteit van die Vrystaat, word die sluimerende rassekonflik op die kampus duidelik gedruk na 'n volskaalse rassekookpot.

Die eensydige verwydering van die blanke Reitz-manskoshuis van die kampus verlede jaar en die stelsel van gedwonge koshuisintegrasie, was en is eweneens duidelike stappe om die universiteit te ontblank en ontAfrikaner.

Die feit egter dat vier van die vyf rektorskandidate swart is en dat die regerende ANC-party openlik betoog dat net een van die kandidate swart-aktivisties genoeg is, toon dat die lang messe uit is vir die finale aanslag op die blanke element van die universiteit.

Dit is 'n bewys dat daar magte is wat die instansie met spoed wil omskep in 'n swart aktivistiese sogenaamde Afrika-universiteit, terwyl daar aan die ander kant diegene is wat die blanke Afrikaner-oorsprong as 'n wesentlike deel wil behou.

Bron: Ditsem Vrystaat

Thursday, January 22, 2009

Ditsem Vrystaat

Nuwe Afrikaanse koerant in Bloemfontein: Ditsem Vrystaat

Wie en wat die koerant is

Ditsem Vrystaat is 'n Afrikaanse koerant wat maandeliks verskyn en wat die gemeenskapslewe dek vanaf politiek, besigheid, internasionale sake, kultuur, jeug, maatskaplik tot sport, ens. en wel op 'n informatiewe en byderwetse wyse.

Met oplaag van 5 000 eksemplare word dit verkoop teen R5 per eksemplaar by supermarkte, kafees en ander verkoopspunte in Bloemfontein, Welkom en die volgende dorpe: Brandfort, Theunissen, Winburg, Bultfontein, Virginia, Hennenman, Odendaalsrus, Wesselsbron, Bothaville, Hoopstad, Boshof, Kroonstad, Parys, Sasolburg, Heilbron, Frankfort, Dealesville, Bethlehem, Harrismith, Ladybrand, Excelsior, Petrusburg, Zastron, Bethulie, Edenburg, Smithfield en Orania. 'n Stelsel van individuele intekenare is ook beskikbaar.

Die koerant beskik ook oor sy eie dinamiese webtuiste by www.ditsem.net wat wêreldwyd vir belangstellendes, ook vir die SA diaspora in die buiteland, toeganklik is.

Gratis elektroniese nuusbrief, die DitsemBlits, word ook weekliks gestuur aan intekenare en aan belangstellendes in sleutelposisies landswyd sowel as in die buiteland.

Die uitgewer van Ditsem Vrystaat is Anulus Bemarking, Bloemfontein wat die Vrystaat Sake Bulletin die afgelope 13 jaar uitgee en op 14 dorpe en stede versprei, asook oor sy eie webtuiste beskik by www.bulletinonline.co.za. Die redakteur van die Ditsem Vrystaat is dr. Johann Dannhauser.

Waarvoor die koerant staan

Die uitgewers en redaksie van Ditsem Vrystaat bely God Drieënig, uit, deur en tot wie alle dinge is en daarmee saam die saligmaking in Jesus Christus vir alle mense wat dit persoonlik in geloof aanvaar. Hierdie belydenis en geloof het ingevolge die Bybel bepaalde praktiese implikasies.

Die politieke siening van Ditsem Vrystaat is dat die menslike samelewingsonde slegs sinvol en konstruktief gereël kan word op die grondslag van erkenning van die identiteite en regte van volke en volksgroepe, van vreedsame naasbestaan en van eiesoortige ontwikkeling. Dit is in ooreenstemming met die Skrifbeginsel van doen aan andere soos jy aan jouself gedoen wil hê, asook in ooreenstemming met die reg tot selfbeskikking vir volke soos vervat in Art. 2(7) van die Handves van die Verenigde Nasies.

Toegepas op die Suid-Afrikaanse situasie, beteken dit dat Ditsem Vrystaat op gebalanseerde wyse die belange van die blanke bevolkingsgroep in die land, soos vergestalt in die Boerevolk, op die hart dra, veral wat betref identiteitstrots, diskriminasie in die werksplek, sportwotas, onderwyssake, groeiende armoede, selfbeskikking, ens. Saam met hierdie fokus ondersteun die koerant opbouende samewerking met ander bevolkingsgroepe, altyd met behoud van eie identiteit.

Inhoud

Ditsem Vrystaat streef te alle tye om inhoudelik feitelik die waarheid te dra, om te konsentreer op dit wat saakmaak vir die Afrikaner en om oor die algemeen hoogs verantwoordelike joernalistiek te bedryf.

Advertensies wat nie in Ditsem Vrystaat sal verskyn nie, is wat spesifiek gerig is op seks, dobbel, hardehout alkoholiese drank, dwelms, ens.


Bydrae

Teen hierdie agtergrond trag Ditsem Vrystaat om 'n opbouende, lekker-lees en interaktiewe bydrae te maak tot die media en openbare meningsvorming in die Vrystaat en selfs wyer.



Ditsem Vrystaat


Anulus Marketing, the Bloemfontein-based publishers of the Free State Business Bulletin, a monthly newspaper for business and development in the Free State for the past 14 years, published the first edition of a new Afrikaans newspaper called Ditsem Vrystaat in December 2008.

In tabloid format and full colour throughout, Ditsem Vrystaat appears monthly and retails for R5 in Bloemfontein, Welkom and 24 towns in the Free State at various supermarkets, café’s and selling points.

Aiming to promote the interests of the white Afrikaans-speaking community in a balanced way, Ditsem Vrystaat covers topics such as politics; business; the economy; education; arts; culture; religion and sport.

One can also read the current edition of the publication in digital format on the Ditsem Vrystaat website, at www.ditsem.net. While focussing primarily on the Free State province, Ditsem Vrystaat also carries national and international news, thus keeping the South African diaspora abroad in its sight.

Ditsem Vrystaat also issues a twice-weekly electronic newsletter, DitsemBlits.

For more information call 051 430 5444, or visit www.ditsem.net.