Tuesday, March 10, 2009

Vlaag kapings in Bloemfontein

IN die jongste van ’n vlaag voertuigkapings in Bloemfontein het ’n man verwoed om sy lewe geveg.

Hy is meer as sewe keer met ’n mes in die nek, arms en hande gesteek.

Mnr. Kobus de Wet (37), ’n dieselwerktuigkundige van die Phello-konstruksiemaatskappy, waarsku Bloemfonteiners nou om oral in die stad op hul hoede te wees.

Hy en sy gesin het onlangs van Pretoria na Bloemfontein verhuis. In Pretoria het hy ook ’n motorkaping oorleef waarin hy geskiet is.

“?’n Mens is nêrens veilig nie. Dit kan met enigiemand op enige plek gebeur,” sê De Wet.

Hy het Saterdag van die distrik Hobhouse gekom waar hy ’n voertuig herstel het.
Op pad terug het hy op die pad van Thaba Nchu af by ’n rooi verkeerslig by die afdraai na Oos-Einde gestop.

Toe hy wegtrek, het viermans agterop die bakkie gespring.

“Hulle het vir my gesê ek moet ry soos hulle sê, anders gaan hulle my doodskiet.”

Hulle het hom na ’n grondpad buite die stad laat ry.

Daar het die aanvallers sy ruit met ’n baksteen stukkend geslaan en hom met messe toegetakel. Hy is uit die bakkie gesleep en hy moes verwoed om sy lewe veg.

Hy het die baksteen in die hande gekry en die aanvallers daarmee geslaan.

Dit is toe dat hy in die bakkie kon kruip en wegjaag.

Hy het sy vrou, Melanie, en sy werkgewer, mnr. Harry Sutherland, met sy selfoon gebel.

Hy het by die Navalsig-polisiekantoor gestop en ten aanskoue van mense in die polisiekantoor op die stoep ineengestort.

Mev. De Wet sê haar man het haar gebel en net gesê sy moet kom, want hy bloei baie.

Sy en haar twee dogters, Michelle (5) en Elize (12), het saam met haar ouers na die polisiekantoor gejaag.

Noodpersoneel het hom na die Bloemfontein-Medi-Clinic gebring.

Mnr. Carl Bührmann, hospitaalbestuurder, sê De Wet is stabiel. Hy is gister van die hoësorg-eenheid na ’n algemene saal oorgeplaas.

Photobucket

Mnr. De Wet se bakkie soos hoe dit gelyk het toe hy voor die polisiekantoor stop.

Photobucket

Bakkie binnekant.

Photobucket

Waar hy voor die polisiekantoor ineengestort het.

Photobucket

In die hospitaal.

Photobucket

Snye aan sy gesig en nek.

No comments:

Post a Comment