Monday, March 30, 2009

Nege vermeende kapers vas - Bloemfontein

Mar 30 2009 01:38:46:567AM - (SA)
Johan Brits







Nege mans wat met vyf motorkapings in Bloemfontein verbind kan word, is in hegtenis geneem.

Die eenheid teen georganiseerde misdaad het dié mans, vermoedelik almal van Mosambiek, die naweek in die woonbuurt Phameng aangekeer.

Bloemfontein is die laaste tyd erg deur kapings geteister.

Meer as 20 kapings het van einde November 2008 tot einde verlede maand net in die Parkweg-polisiekantoor se gebied voorgekom.

Volgens ’n ingeligte in dié eenheid het die ondersoek wat tot die negetal se inhegtenisneming gelei het, drie weke geduur.

“Hulle kan met vyf kapings verbind word.”

Die eenheid verwag om binnekort nog mense aan te keer.

“Die mans is nie deur die sogenaamde taakspan wat die polisie aangewys het om die kapingsvoorvalle te ondersoek, aangekeer nie. Ek weet nie waar dié taakspan is nie.”

Volgens die polisie is die taakspan meer as twee weke gelede aangewys om die reeks kapings en wrede aanvalle op motoriste te ondersoek.

Sr.supt. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het gesê die taakspan bestaan in dié geval uit kenners van kapings en geweldsmisdade.

Meer inligting oor die ondersoek kan nog nie bekend gemaak word nie.

Die nege mans verskyn vandag in die Bloemfonteinse landdroshof.

Kapt. Harry Nagel, polisiewoordvoerder, het gister gesê geen kapings of pogings tot kapings is oor die naweek nog aangemeld nie.

Die jongste geval was einde verlede week toe ’n bekende Suid-Afrikaanse swemmer byna ’n kapingslagoffer geword het. Sy kon daarin slaag om betyds weg te kom.

Die groep Stop kapings in Bloem, wat Volksblad op die sosiale netwerk Facebook begin het om mense bewus te maak van die kapings in die stad, se ledetal groei steeds sterk.

’n Week gelede het die groep amper 300 lede gehad. Gister het die ledetal op 487 gestaan.

Bron: Volksblad

No comments:

Post a Comment