Sunday, December 21, 2008

"Antichris" beskadig plate op Vegkop

HEILBRON. – Groot skade wat aan die brons- en sandklipplate op die historiese Vegkop-terrein aangebring is, word as ’n aanval deur die “antichris” beskou.
Vandale het die woorde “God” en “Christian” met ’n skerp voorwerp uitgekrap.
Die jaar “1836” op die sandkliphoeksteen is ook uitgekrap.
Die Slag van Vegkop het in Oktober 1836 plaasgevind.
Mnr. Jannie Els, voorsitter van die Vegkop-slagvelddireksie, sê hulle is baie teleurgesteld en hartseer oor die “Christelike aanval”.
“Dit is baie hartseer oor die sandklip. Dit is onherstelbaar.”
Els weet nog nie hoeveel die skade beloop nie, maar sê die “skade kan nie in geld bereken word nie”.
“Sekere goed is onherstelbaar. Dit is ’n historiese terrein.”
Els sê volgens inwoners van arbeidershuise naby die terrein het ’n man met ’n lang baard, kopdoek en vuil klere te voet op die terrein aangekom.
Dít is die enigste verdagte mens wat die dag op die terrein was.
Volgens Els was mnr. Abel Claasen, kurator, die dag af.
Mev. Quarta Pretorius het namens die direksie gesê die idee was beslis nie om die bronsplaat te gaan verkoop vir skroot nie, want dit is by die monument gelaat.
Die restourasie van Vegkop is in Oktober 1986 gedoen.
Els sê dit is die eerste keer dat daar enige vandalisme op die Vegkop-terrein was.
Die direksie is verantwoordelik vir die instandhouding en bewaring van alles op die terrein.
Hulle sal die herstelwerk, waar moontlik, laat doen.
Die voorval word deur die polisie ondersoek.

DIE woorde “God” en “Christian” is met ’n skerp voorwerp uitgekrap.


DIE woord “God” en die jaar “1836” is op dié sandkliphoeksteen uitgekrap.

Volksblad 22/12/2008

No comments:

Post a Comment